

PANSAT SE POSISIE BETREFFENDE DIE BEVORDERING VAN VEELTALIGHEID IN SUID-AFRIKA:
'N KONSEPBESPREKINGSDOKUMENT







Kopiereg: PANSAT
Pretoria, Februarie 1999

PANSAT se posisie betreffende die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika:

'n Konsepbesprekingsdokument

1. Inleiding

Die doel van hierdie dokument is om 'n verduideliking te gee van PANSAT se siening van veeltaligheid en taalontwikkeling in die konteks van taalwetgewing in die Grondwet en ander regsdokumente.

Die Raad se posisie betreffende veeltaligheid word soos volg in sy missieverklaring saamgevat:

Die missie van die Raad is om veeltaligheid in Suid-Afrika te bevorder deur:

* omstandighede vir die ontwikkeling en gelyke gebruik van alle amptelike tale te skep,
* respek vir ander tale in die land te kweek en die gebruik daarvan aan te moedig, en
* die optimale gebruik van die land se taalhulpbronne aan te moedig

ten einde Suid-Afrikaners in staat te stel om hulleself van alle vorms van linguistiese diskriminasie, dominasie en skeiding te bevry; en om hulle in staat te stel om gepaste linguistiese keuses vir hulle eie welsyn en vir nasionale ontwikkeling uit te oefen.

2.	Riglynbeginsels

Die riglynbeginsels vir die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika is vervat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika,1996 (Wet No. 108 van 1996), artikel 6(1) - (5), en in die Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 1995 (Wet No. 59 van 1995).

Die Grondwet bevat 'n Handves van Regte, wat hoofsaaklik op die idee van individuele regte gegrond is.  Die artikels oor taal moet dus in die lig van taal as 'n reg gesien word.  Daarbenewens dui die herhaling van terme soos "status", "gebruik" en "taalgebruik" duidelik op 'n paradigma wat ook op die funksionele of diensbare gebruik van die tale van Suid-Afrika gebaseer is.  Die PANSAT-wet sluit albei hierdie perspektiewe oor taal in, d.w.s. taal as 'n reg sowel as 'n hulpbron.

Die doel van die Handves van Regte is om toe te sien dat die Suid-Afrikaanse gemeenskap 'n gemeenskap word wat gebaseer is op die sterk demokratiese beginsel van gelykheid.  Die doel van die strukture wat ingevolge die Grondwet ingestel is, is gevolglik om met die demokratisering van ons gemeenskap te help.  PANSAT is een van hierdie strukture en sy werk is dus gerig op die bevordering van demokratiese beginsels.

Die Grondwet identifiseer twee agentskappe wat daarvoor verantwoordelik is om die taalmaatrels in werking te stel, naamlik die Regering en PANSAT.  Ingevolge die subafdeling oor Tale, bepaal artikel 6 van die Grondwet onomwonde die volgende:

(1)	Die amptelike tale van die Republiek is Sesotho sa Leboa, Sesotho, Setswana, siSwati, Tsivenda, Xitsonga, Afrikaans, Engels, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu.
(2) Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatrels tref om die status van di tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.
(3) (a)	Die nasionale regering en provinsiale regerings kan enige bepaalde amptelike tale vir regeringsdoeleindes aanwend, met inagneming van gebruik, doenlikheid, koste, streeksomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking as geheel of in die betrokke provinsie; maar die nasionale regering en elke provinsiale regering moet minstens twee amptelike tale gebruik.
(b) Munisipaliteite moet die taalgebruike en -voorkeure van hul inwoners in aanmerking neem.
(4) Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatrels hul gebruik van amptelike tale rel en monitor.  Sonder afbreuk aan die bepalings van subartikel (2) moet alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word.
(5) 'n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad deur nasionale wetgewing ingestel, moet -
(a) die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van -
(i) alle amptelike tale
(ii) die Khoi-, Nama- en Santale; en
(iii) gebaretaal; en
(b) respek bevorder en verseker vir -
(i) alle tale wat algemeen deur gemeenskappe in Suid-Afrika gebruik word, met inbegrip van Duits, Grieks, Goedjarati, Hindi, Portugees, Tamil, Teloegoe en Oerdoe; en
(ii) Arabies, Hebreeus, Sanskrit en ander tale wat in Suid-Afrika vir godsdiensdoeleindes gebruik word.

Uit bostaande is dit duidelik dat die regering se verantwoordelikhede in artikel 6(1) - (4) gedentifiseer word, terwyl PANSAT se verantwoordelikhede in artikel 6(5) uiteengesit word.

3.	Verantwoordelikhede van PANSAT

PANSAT se uitdruklike rol is om omstandighede te skep vir die ontwikkeling en gelyke gebruik van alle amptelike tale.  Dit beteken dat hy op 'n wyse moet handel wat agentskappe sowel binne staatstrukture as in die burgerlike gemeenskap inisieer, fasiliteer en bemagtig om by te dra tot die ontwikkeling en gebruik van al die amptelike tale.

PANSAT is verantwoordelik vir  die skepping en bevordering van 'n positiewe omgewing vir veeltaligheid in die algemeen, insluitende die amptelike tale maar nie beperk daartoe nie.  Alhoewel PANSAT dus die regering oor taalbeleid en 
-beplanning vir die bevordering van die status en gebruik van die amptelike tale,  moet dit nie sy aandag aftrek van 'n brer fokus op die fasilitering van 'n ontvanklike omgewing vir die bevordering van veeltaligheid nie.  Dit sluit in die bevordering van interlinguistiese vaardighede en die ontwikkeling van sowel die amptelike tale as ander tale wat in Suid-Afrika gebruik word.

Daar word algemeen aanvaar dat die beste manier van taalontwikkeling plaasvind wanneer die taal gebruik word.  Vanselfsprekend word elke Suid-Afrikaanse taal gebruik, sommiges meer algemeen as ander.  Ongelukkig is die gebruik van sommige van ons tale aktief ontmoedig, en word hierdie tale ernstig deur uitsterwing bedreig terwyl ander inderdaad reeds uitgesterf het.  Indien 'n taal wil oorleef, moet dit vir 'n groot verskeidenheid funksies gebruik word anders begin dit agteruitgaan en sterf dit.  As ons dus toelaat dat funksies met hor status net tot Engels en Afrikaans beperk word, sal die ander tale van die land uiteindelik begin agteruitgaan en sterf.  Ons het dit sien gebeur met baie van die Khoi- en San-tale en hulle uitsterwing is 'n verlies nie slegs vir die gemeenskappe wat dit gebruik het nie, maar is 'n nasionale ramp.  Tot dusver het ons nog baie min gehoor van linguistiese uitsterwing in hierdie land, terwyl die gevaar wat sekere spesies plante en diere loop om uit te sterf, wel aan ons bekend is.  As 'n taal sterf, sterf daar dikwels 'n hele korpus kennis daarmee saam.  Die taak wat op ons wag, is dus die bevordering van die gebruik van die amptelike tale sowel as ander tale wat in Suid-Afrika gebruik word, in 'n groter verskeidenheid kontekste en vir 'n groeiende aantal doeleindes.

Onomwonde gestel: ons moet maniere vind om kommunikasiekanale te open deur daarop aan te dring dat ons tale in openbare kontekste vir hovlakfunksies gebruik word sodat hulle profiele verhoog word en daar gehoor word dat hulle hierdie funksies suksesvol vervul.  Hul gebruik as 'n lingua franca op plaaslike en selfs streeksvlakke van ekonomiese aktiwiteit moet openbaar gemaak word en hulle bruikbaarheid wat inheemse kennis betref, moet op soortgelyke wyse bekend gestel word.

Aan die ander kant moet die oormatige vertroue in Engels as 'n lingua franca terselfdertyd heroorweeg word.  Waar isiZulu as 'n lingua franca vir 70% van die land se bevolking funksioneer, kan Engels tans deur slegs 20% van die bevolking doeltreffend gebruik word.  Regeringskommunikasie in Engels bereik byvoorbeeld slegs 'n minderheid mense wat waarskynlik uit die ontwikkelde middelklas- stedelike bevolking bestaan.

Die Raad erken dat hy die verstandigste strategie sal moet ontwikkel vir die herstel en verdere opbou van die bestaande funksionele gebruik van Afrikatale (insluitende Afrikaans, Khoi en San en Suid-Afrikaanse Gebaretaal) in hierdie land.  Die Raad sal ook moet toesien dat die maksimum voordeel getrek word uit dit wat deur Engels en moontlik ander internasionale tale gebied word.

Wat ons inheemse tale betref, moet 'n drieledige benadering gevolg word wat gelyktydig -
* op die ontwikkeling of uitbreiding van hierdie tale gerig is;
* gerig is op die verkenning en uitbouing van die maniere waarop die gebruikers van verwante tale hulle veeltalige vaardighede toepas om te kommunikeer; en
* die nodige omstandighede skep om die gebruik van hierdie tale uit te brei.

Met ander woorde, die Raad sal ontwikkelingsaktiwiteite onderneem wat eie aan sekere tale is, en sal ontwikkelingstrategie inisieer om interlinguistiese kommunikatiewe vaardighede (byvoorbeeld vertaling, tolking en taalaanleerprogramme) uit te bou.  Ons doelwit bly altyd di van maksimalisering van veeltalige kommunikatiewe bevoegdheid eerder as die skep van taalversperrings tussen mense.

Alhoewel die Grondwet 11 tale vir amptelike status gedentifiseer het, moet ons verstaan dat dit ontstaan het uit 'n historiese situasie wat voorheen 10 Afrikatale uitgekies en aan hulle beperkte amptelike erkenning verleen het.   Sodoende is die amptelike status van nege tale1 uitgebrei tot nasionale vlak deur hulle by die twee voormalige amptelike tale (Afrikaans en Engels) te voeg.  Hierdie tegniese punt kan vir die voorsienbare toekoms woede en gegriefdheid veroorsaak by linguistiese gemeenskappe wat sterk identifiseer met 'n taal wat hulle glo verskil van die tale wat nou amptelike status geniet.  Die posisie van die Raad is dat hy die gebruik en ontwikkeling van elke taal in Suid-Afrika erken en ondersteun omdat elke taal en sy gemeenskap fundamenteel hulpbronne van nasionale belang is wat erken, ondersteun en benut moet word.  Terselfdertyd is dit die Raad se rol om toe te sien dat hy saam met die bevordering van veeltaligheid ook samewerking en die opening van kommunikasiekanale bevorder, en nie linguistiese mededinging, afskeiding of separatisme kweek nie.

Die Raad sal verduidelik hoe tale sonder amptelike status praktiese erkenning en bevordering moet ontvang.  Die Raad se taak is die beklemtoning van die funksionele gebruik  en waarde van elke taal in 'n interafhanklike verhouding met ander tale.  Om op die hirargiese vorm van tale of die "amptelike" versus die "nie-amptelike" status van tale te fokus, sal geensins op 'n praktiese wyse bydra tot 'n omgewing wat vir veeltaligheid of demokrasie bevorderlik is nie.  Die Raad is van mening dat hy eerder deur die bevordering, gebruik en ontwikkeling van alle tale in staat sal wees om demokrasie en die taalregte van elke linguistiese gemeenskap te ondersteun.  Die Raad neem kennis dat daar 'n duidelike grondwetlike verpligting op die regering - op sowel nasionale as provinsiale vlak - rus om die status en bevordering van die gebruik van die amptelike tale wat histories ingekort is, te verhoog.  Voordat dit kan gebeur, moet die staat egter die nodige hulpbronne voorsien.

PANSAT is van voorneme om 'n omgewing daar te stel waarin die staatsorgane en die burgerlike samelewing met 'n belang by taalontwikkeling, -gebruik en -diensverskaffing, tot naasbestaan aangemoedig word.  Hul gemeenskaplike doel sal wees om te verseker dat sowel taalregte beskerm word as dat die hulpbronne van elke taal en sy gebruikers op alle vlakke van die gemeenskap benut word.  In hierdie opsig sien PANSAT homself nie in 'n patriargale verhouding met ander taalliggame nie; en beoog hy ook nie om 'n strafstruktuur te word wat die mag in homself wil vestig nie.  Hy wil eerder voortgaan om sy verpligtinge na te kom om omstandighede te skep vir die opbloei van veeltaligheid.

4. Taalbeleidorinterings

Die voorkeur vir veeltaligheid bo eentaligheid, saam met die beginsel van gelyke status van 11 tale, is die rigtingbepalende basis van taalbeleid.  Ruiz (1984 en 1988) bied 'n wyse waarop taal uit drie verskillende teoretiese posisies beskou kan word, naamlik taal as 'n probleem, taal as 'n reg, en taal as 'n hulpbron.  Taalbeplanningspesialiste in Afrika verwys dikwels na hierdie verskillende beskouings oor taal.  Veral die beskouings oor taal as 'n reg en taal as 'n hulpbron het in die Franssprekende en Engelssprekende lande van Afrika onder vurige bespreking gekom.  'n Gemeenskaplike aspek in die werk van, onder andere, Akinasso, Bamgbose, Chumbow, Elube, Djit, Mateen, Prah en Tripahi, is dat die hulpbronne wat Afrikatale kan bied, blootgel en ontwikkel moet word sodat die mense van hierdie kontinent self vir hulle bestemmings verantwoordelik kan wees.

4.1 Taal as 'n probleem

Hierdie orintering is teenwoordig in gemeenskappe waar die heersende ideologie een van segregering en/of assimilering is.  Die reaksie op de facto-veeltaligheid is om 'n taalbeleid wat op eentaligheid gebaseer is, te bevorder, d.w.s. die verhoging van die taal van die heersende klas.

Suid-Afrika het pas losgekom uit 'n lang tydperk van segregasie en 'n taalbeleid gebaseer op die siening dat alle tale behalwe Afrikaans en Engels 'n probleem is.  Met die opkoms van die nuwe regerende elite geld die siening steeds dat taal 'n probleem is, maar word dit nou deur assimilasionistiese tendense bewys.

4.2 Taal as 'n reg

Hierdie orintering stem ooreen met di van gemeenskappe vir wie die beginsels van gelykheid belangrik is.  Ons Grondwet verplig ons om taalbeleid en planne vanuit hierdie siening te ontwikkel.  Die kwessie van taal as 'n reg is baie belangrik, en een wat ernstige aandag in hierdie land moet ontvang, juis omdat mense se regte in die verlede aangetas is.  Een manier om toe te sien dat taalregte gewaarborg kan word, is om taal te sien uit die perspektiewe van taal as 'n reg en taal as 'n hulpbron. 

4.3 Taal as 'n hulpbron

Hierdie orintering stem ooreen met die beginsel van interafhanklikheid, waar verskillende gemeenskappe/tale gesien word dat hulle interafhanklik saambestaan.  Die waarde van elke taal en sy spraakgemeenskap word as deel van die geheel erken.  Taal as 'n hulpbron sluit die idee van taal as 'n reg in.  Die siening dat elke taal 'n hulpbron vir die nasie is, behels die idee van die diensbare gebruik van tale of funksionele veeltaligheid.

5. Die paradigma

Die paradigma wat in Suid-Afrika aanvaar moet word, is sonder twyfel die een wat die funksionele benadering tot taal, wat onskeibaar van die siening van taal as 'n reg is, sowel as die siening dat alle tale hulpbronne is, insluit.

Taalbeleid en -beplanning wat op hierdie twee orinterings van taal as 'n reg en taal as 'n hulpbron gebaseer is -

* erken dat daar bronne van kennis en kundigheid is wat sprekers van alle tale besit;
* aanvaar dat doeltreffende maatrels getref sal word om toegang tot hierdie kennis te verkry en dit tot die maksimum voordeel van die gemeenskap aan te wend;
* ontsluit die potensiaal van bestaande patrone van plaaslike en streeks- veeltalige kommunikasiestelsels;
* benut internasionale stelsels vir kommunikasie oor linguistiese grense heen; en
* bou 'n buigsame netwerk van veeltalige kommunikasiestelsels om aan die binnelandse en internasionale vereistes van 'n nasionale plan vir ontwikkeling te voldoen.

5.1 'n Funksionele benadering tot veeltaligheid

PANSAT verstaan funksionele veeltaligheid vanuit 'n demokratiese, nie-diskriminerende perspektief.  In Suid-Afrika is dit om sosiale, demokratiese en ekonomiese redes onaanvaarbaar dat die gebruik van enige taal beperk word.  PANSAT verstaan onder "funksionele veeltaligheid" dat mense verskillende tale in die verskillende dele van die land gebruik.  Dit maak dus funksionele sin om die toepaslike taal/tale te gebruik wanneer gekommunikeer word.  Dit beteken dat die regering die toepaslike medium van kommunikasie moet identifiseer volgens wie die gehoor is.  Dit beteken nie dat die regering elke keer as hy met die publiek kommunikeer, al 11 tale moet gebruik nie.

Om hierdie punt op konkrete wyse te illustreer:  indien die Departement van Gesondheid 'n VIGS-veldtog van stapel wil stuur, sou 'n funksionele veeltalige benadering die idee uitsluit dat een taal dwarsdeur die hele land gebruik word om die inligting bekend te maak.  Hierdie inligting moet versprei word in elke taal wat as 'n primre taal vir kommunikasie in die land gebruik word, maar op 'n wyse wat die toepaslike teikentaal/-tale in elke gemeenskap identifiseer.  Hiervolgens moet die Mier-distrik in die Noord-Kaap waarskynlik hierdie inligting in Afrikaans en moontlik Nama ontvang; die Willowvale-gebied van die Oos-Kaap in isiXhosa; en Noordelike KwaZulu-Natal in isiZulu.

Wat die brer gemeenskap betref, sal funksionele veeltaligheid, indien dit in 'n nasionale plan vir (ekonomiese) ontwikkeling genkorporeer word, identifiseer wanneer, waar, watter en hoe tale tans gebruik word.  Dit sal die doeltreffendheidsgraad van die gebruik van hierdie tale in hierdie kontekste evalueer.  Dit sal aandui watter verdere navorsing nodig is om beter en  doeltreffender van tale gebruik te maak en dit sal verder identifiseer watter ander tale hierdie proses winsgewend kan fasiliteer.

Taalgebruik verander volgens behoeftes, waargeneem of andersins.  Gevolglik is dit onwaarskynlik dat die status quo van die funksies van tale staties gaan bly selfs sonder duidelike beplanning.  Toepaslike taalbeplanningsaktiwiteite wat aan nasionale en ekonomiese ontwikkeling gekoppel is, behoort vir baie tale op 'n meer stelselmatige en uiteindelik voordelige wyse die verskeidenheid funksies te vergroot.  Sodoende sal dit die gebruikswaarde van taal uitbou, wat die beste waarborg is dat die linguistiese regte van gemeenskappe op 'n bemagtigende wyse beskerm sal word.

'n Belangrike komponent van funksionele veeltaligheid is dat dit verantwoordelike beplanning vereis.  Die vrees dat dit outomaties die irrasionele vermenigvuldiging van taaldienste impliseer, is gegrond op 'n wanbegrip van die aangeleentheid.  Sodra die primre doel gedentifiseer is, moet die fases en tydsbestekke vir die bereiking van daardie doel ingedeel word. Die modernisering van di tale wat tans verhinder word om in domeine soos internasionale wetenskap en tegnologie en in streeks- en selfs nasionale ekonomie te funksioneer, moet 'n dringende prioriteit word.  Taaldienste en die publisering van dokumente moet gerasionaliseer word sodat dokumente beskikbaar gestel word in die tale wat die tersaaklikste vir die teikenleser is.Met ander woorde, dokumente moet in bondige en eenvoudige taal geskryf wees, en vertalings of opgesomde vertalings moet voorsien word waar en wanneer die behoefte duidelik gedemonstreer word.

6. Veeltaligheid

Die ongeveer 6 000 tale wat wreldwyd in ongeveer 200 lande gebruik word, is 'n aanduiding dat veeltaligheid 'n internasionale werklikheid is, alhoewel David Crystal op die volgende wys: "Die wydverspreide indruk dat veeltaligheid seldsaam is, word bevorder deur regeringsbeleide: minder as 'n kwart van die wreld se volkere verleen amptelike erkenning aan twee tale, .... en slegs ses erken drie of meer". [Vertaal] (Crystal 1987:360). Ingrid Gogolin (1993) verwys na die monolingustiese habitus waarop die algemene Westerse persepsie oor tale berus.  Die politieke, ekonomiese en militre sukses van die Weste het gelei tot die superponering van monolinguistiese habitus op die veeltalige lande wat dit onderwerp het.  Die veeltalige realiteit waarmee PANSAT te kampe het, moet verstaan word teen die oorweldigende aandrywing na die monolonguistiese habitus, en die dinamika van linguisme (linguistiese rassisme) (sien Skutnabb-Kangas, 1998).

Suid-Afrika bevind hom in die ongewone posisie dat hy meer amptelike tale op nasionale vlak het as enige ander land.  Die Grondwet verplig die regering om aan hierdie amptelike status uitvoering te gee en verplig die Raad om respek vir ander tale asook veeltaligheid en die ontwikkeling van tale in die algemeen te bevorder.  Hierdie verpligting plaas Suid-Afrika op die voorpunt van internasionale taalbeleidsontwikkeling, wat 'n opwindende geleentheid vir pionierswerk op internasionale vlak bied.

6.1 Veeltaligheid in Suid-Afrika

Soos die meeste ander lande is Suid-Afrika veeltalig, wat beteken dat baie tale in die land in verskillende kontekste en vir verskillende doeleindes gebruik word.  Die meeste mense is in staat om meer as een taal te gebruik en baie is in staat om verskeie tale te gebruik. In di land het egter vele mites en wanbegrippe oor tale en die mense wat hulle gebruik ontwikkel, en dit sal een van PANSAT se take wees om die egte waarde en gebruik van baie van die tale van ons land te herstel.  Die meeste van diegene wat veeltalig is, praat tuis en in hul onmiddellike gemeenskap inheemse tale.

Taalgebruik oor die hele kontinent van Afrika toon ooreenkomste met di in Suid-Afrika.  Mense is gemotiveer om ander tale aan te leer as hulle moet kommunikeer om redes wat met handel en ekonomiese aktiwiteite verband hou.  Tale wat meer algemeen of deur groter spraakgemeenskappe gebruik word, neig om as skakeltale of lingua francas gebruik te word.  In Afrika is daar talle lingua francas wat algemeen gebruik word, soos Arabies, Kiswahili, Hausa, Fulfulde, Kanuri en Kikingo, wat oor grense heen en vir doeleindes van streekshandel en samewerking gebruik word.

Die amptelike inheemse tale van Suid-Afrika word dwarsoor Suidelike Afrika op soortgelyke wyse as lingua francas gebruik.  Byvoorbeeld: isiNdebele word algemeen in Zimbabwe en die noordelike dele van Suid-Afrika gebruik, en word deur sprekers van ander Nguni-tale verstaan (isiZulu word waarskynlik in Suid-Afrika deur 70% van die bevolking gebruik, alhoewel sy moedertaalsprekers selgs 22% uitmaak).  Setswana oorheers in Botswana en word ook in minstens twee provinsies van Suid-Afrika algemeen gepraat.  Xitsonga word in Mosambiek en in Suid-Afrika gepraat.  Afrikaanse is de facto die lingua franca van Namibi en die Noord-Kaap, en dit funksioneer ook op soortgelyke wyse in verskeie provinsies van Suid-Afrika.  In werklikheid word elkeen van Suid-Afrika se amptelike tale op ander plekke in die Suidelike Afrika-streek gepraat en verstaan en funksioneer dit daarom as 'n streeks- lingua franca.

6.2 Eentaligheid is ontmagtigend

Daar is aansienlike beweging onder mense wat hierdie tale op plaaslike en streeksvlakke van die ekonomie oor die Suidelike Afrika-grense heen vir handelsdoeleindes gebruik.  Aan die ander kant was diegene wat primr aan die boonste, nasionale vlakke van ekonomiese aktiwiteit deel gehad het, geneig om sprekers van Engels te wees, en in 'n mindere mate Afrikaans, in hierdie land; of sprekers van Frans en Portugees in ander Afrikalande.

Kolonisasie het saam met hom verskeie meganismes gebring om die verowerde gemeenskappe onderdruk te hou.  Een van die magsinstrumente is taal.  Mense kan nie mag deel as hulle nie toegang het tot die taal/tale wat deur diegene in beheer gebruik word nie.  In Afrika is die inheemse tale selde gebruik om die koloniale of neo-koloniale mag doeltreffend uit te daag.  Saam met kolonisasie het Westerse denke, wetenskap en tegnologie al hor aansien geniet.  Inheemse kennis, wetenskap, medisyne en plaaslike ekonomie het in die proses status verloor en verskuil geraak.  Hulle is verborge in die plaaslike tale, wat deur die koloniale en neo-koloniale heersers van die kontinent uit hovlak-funksies uitgesluit is.  Ironies genoeg word ho status verleen aan diegene wat 'n internasionale taal gebruik selfs al is hulle eentalig, terwyl veeltalige sprekers van Afrikatale min erkenning vir hulle kommunikatiewe vaardighede en aansienlike kennis ontvang.  Die inheemse sprekers van die internasionale tale in Afrika het dus, oor die algemeen, nie die nodigheid ingesien om plaaslike tale aan te leer nie.




6.3 Die waarde van veeltaligheid

Die Grondwet bied ons 'n geleentheid om die waarde van linguistiese pluralisme in Suid-Afrika terug te eis, en sodoende 'n verborge voorraad kennis te herontdek.  Hierdie proses het vele voordele vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap as geheel.

Die bates van daardie mense wat toegang tot inheemse kennis en taalstelsels, insluitende Suid-Afrikaanse Gebaretaal, het, en wat veeltalig is, sal herwaardeer word.

Die omgekeerde situasie, waar waarde geheg word slegs aan diegene wat Engels praat al is hulle eentalig, of diegene wat slegs in Westerse wetenskap en tegnologie vaardig is, sal in 'n meer gebalanseerde perspektief geplaas word met erkenning van alle soorte kennis en kommunikatiewe vaardighede.  Die persepsie dat mense wat nie in Engels vaardig is nie op een of ander manier ontoereikend is, sal verander moet word indien ons 'n suksesvolle beweging na 'n demokratiese gemeenskap wil h waar diversiteit aanvaar word en die interafhanklikheid van gemeenskappe en verskillende kennisstelsels op prys gestel word.

Die bevordering van veeltaligheid bied ons verder die geleentheid tot groter deelname aan die internasionale gemeenskap, aangesien een van die byvoordele sou wees om tale van wyer kommunikasie aan te leer vir doeleindes van handel en internasionale kommunikasie.  Byvoorbeeld, dit behoort te lei tot die indentifisering van Portugees, Frans, Swahili, Arabies en Hausa as tale wat aangeleer moet word vir handels- en samewerkingsdoeleindes in Afrika.

Navorsing wat in die dertiger- en veertigerjare in ons land gedoen is, het getoon dat tweetalige mense groter maatskaplike verdraagsaamheid openbaar en  meer kans op akademiese sukses het as eentalige mense.  Hierdie navorsing het vir meer as 'n halfeeu onopgemerk gebly.  Dit word nou ondersteun deur navorsing wat in ander lande, soos Noord-Amerika, Australi, Indi en Skandinawi, gedoen word.  Dus, uit sowel 'n maatskaplik samehangende perspektief as 'n onderwysperspektief gesien, hou die bevordering van veeltaligheid waarskynlik belangrike voordele vir die totale Suid-Afrikaanse gemeenskap in.

6.4 Die verhouding tussen veeltaligheid en 'n nasionale ontwikkelingsplan

Nasionale taalbeleidsformulering en -implementering moet in die oorhoofse plan vir nasionale ontwikkeling genkorporeer word.  Navorsers (sien byvoorbeeld Tripathi 1990, Akinnaso 1991 en Siatchitema 1992) wat beleids- en implementeringsprosesse op hierdie kontinent ontleed het, wys op die spanning wat ontstaan waar, byvoorbeeld, taal-in-onderwys-beleide nie met di van die nasionale plan vir ontwikkeling ooreenstem nie.  Wat geneig is om te gebeur, is dat die nasionale (ekonomiese) plan gewoonlik die taal-in-onderwys-plan ondermyn, soos wat dikwels in Afrika gebeur waar die bevordering van die gebruik van Afrikatale in die onderwys ondermyn word deur die vereistes van bedrewenheid in voormalige koloniale tale met die oog op posisies van nasionale politieke en ekonomiese mag.

Verskeie navorsers op die kontinent wys op die verband tussen Afrika se onvermo  "om te ontwikkel", en die implementering van Westers gerinteerde taalbeleide, wat die veeltaligheidswerklikheid van die kontinent ignoreer (sien byvoorbeeld Djit 1993).  Hulle wys ook op die verband tussen die toewysing van ontwikkelingshulp en eentalig afgedwingde taal-in-onderwys-beleide.  Ons kan baie by ander lande in Afrika leer want, alhoewel daar oorspronklik ideologiese en/of simboliese waarde aan Afrikatale geheg was, het die taalbeleide tog geswig voor die eentalige verleidings van Westers ontwikkelde modelle en hulppakkette.  Indien sodanige lande in staat sou gewees het om die intrinsieke nuttigheidswaarde van die Afrikatale te erken en aan te wend, sou die funksionele status van hulle tale baie anders daar uitgesien het.

7. Voorraadopname

Die PANSAT-wetgewing is die belangrikste aanduider van die verbintenis tot die artikulering en monitering van 'n taalbeleid en -plan wat omvattend genoeg is om alke sektor van die gemeenskap in te sluit; wat hierdie aspek betref, is ons ander lande vooruit.  Ons het die verdere voordeel dat ons kan leer uit die paaie wat elders op hierdie kontinent gevolg is.  Daar is sekere basiese stappe wat nodig is in die artikulering en implementering van 'n prakties uitvoerbare taalbeleid en -plan.

7.1 Taalbeleids- en -beplanningsprosedures

Die volgende stappe is nodig vir die doeltreffende implementering van 'n taalbeleid:

* Stippel die beginsels van 'n taalbeleid uit soos in die Grondwet uiteengesit.
* Ekstrapoleer en omskryf 'n taalbeleid gebaseer op hierdie beginsels.
* Kies die taalbeplanningsparadigma wat die beste aan hierdie beginsels uitvoering sal gee.
* Omskryf die grense.
* Stel 'n implementeringsplan op wat die deelname van die regering en die burgerlike samelewing insluit.
* Sien toe dat die taalbeleid en -plan in die nasionale ontwikkelingsplan genkorporeer word.
* Identifiseer die belangrikste struikelblokke en hanteer dit so gou moontlik.
* Identifiseer teiken-tydsbestekke.
* Lig die regering en die burgerlike samelewing toereikend in.

7.1 'n Verdeling van verantwoordelikhede

Die Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie (DKKWT) het reeds begin met die proses om 'n nasionale taalplan in bre trekke te omskryf.  In die begin van hierdie proses was daar nog nie ooreengekom oor die Grondwet van 1996, en veral die taalartikels, nie.  Daarom was die indeling van verantwoordelikhede nog nie so duidelik as wat dit tans is nie.  Dit is nou noodsaaklik dat PANSAT en DKKWT gesamentlik oor hierdie verantwoordelikhede onderhandel ten einde die duplisering van funksies en 'n ad hoc-indeling van verantwoordelikhede te voorkom.

DKKWT het intussen die volgende twee noodsaaklike aktiwiteite genisieer wat ongetwyfeld deel uitmaak van die regering se verantwoordelikhede om uitvoering te gee aan die gelyke status en gebruik van die 11 amptelike tale:

* Die aanbied van 'n bewusmakingsveldtog, geskeduleer vir 1998-1999.
* Die instel van 'n telefoontolkdiens om aan mense van elk van die amptelike tale, en van ander bykomende prioriteitstale, toegang tot nooddienste te verleen.

Albei hierdie aktiwiteite sal die regering van hulp wees in die nakoming van sy verantwoordelikhede en is inisiatiewe wat deur PANSAT gesteun moet word.

Waar die regering meganismes instel om uitvoering te gee aan die gelyke status en gebruik van die amptelike tale, is PANSAT se rol di van inisiring en versterking van die instelling van strukture in die burgerlike samelewing wat die ontwikkeling van interlinguistiese/veeltalige vaardighede ondersteun, en di van die benutting en maksimalisering van die mense-hulpbronne van diegene wat ander tale as Engels praat.  Byvoorbeeld, PANSAT sal die ontwikkeling van die volgende bevorder:
* Gemeenskaps- en diensgebaseerde tolking en vertaling;
* onderwysmateriaal en letterkunde in inheemse tale, insluitende die nege amptelike tale, Suid-Afrikaanse Gebaretaal, en die Khoi- en San-tale;
* woordeboeke wat toegang tot tale in die verskillende taalfamilies maksimaliseer;
* die gebruiik van plaaslike en streeks- lingua francas en handelstale in ons onderhandelings met ons bure in Afrika;
* netwerke met buurlande oor taalontwikkelingsaktiwiteite in tale wat ons oor grense heen deel;
* vermo-opleidingsprogramme onder sprekers/gebruikers van veral die inheemse tale in taalopleiding en ontwikkelingswerk;
* strategie en programme wat die inheemse kennisstelsels van Suidelike Afrika ontsluit;
* vermobou-strategie en -programme vir die gemeenskappe van inheemse tale sodat hulle hul tale en kennisstelsels vir hulle eie welsyn kan gebruik.

Uiteindelik moet die taalgemeenskappe bemagtig word en moet hulle die maatskaplike, onderwys- en ekonomiese potensiaal van hul taal erken voordat veeltaligheid as 'n positiewe mag in hierdie land sal wortelskiet.

8. Slot

Ten slotte wil PANSAT die bemagtiging van taalgemeenskappe stimuleer om sowel die sentimentele as die nuttigheidswaarde van hulle tale te erken.  Veeltaligheid sal as 'n positiewe mag in hierdie land wortelskiet slegs wanneer al ons tale deur die groot gemeenskap na waarde geskat word.

9. Bronne

Akinnaso F N 1991 Toward the Development of a Multilingual Policy in Nigeria.  In Applied Linguistics, Vol 12.1:29-61.

Alexander N 1989 Language policy and National Unity in South Africa/Azania.  Kaapstad: Buchu Books

Alexander N 1995 Aanbieding vir die Departement van Staatkundige Ontwikkeling, Februarie 1995

Crystal D 1987 The Cambridge Encyclopedia of Language.  Cambridge: CUP.

Departement van Kuns, Kultuur, wetenskap en Tegnologie 1996.  Towards a National Language Plan for South Africa.  Final Report of the Language Plan Task Group (LANGTAG).  Pretoria: DKKWT

Djit P 1993  Language and Development in Africa.  International Journal of the Sociology of Language 100/101: 148-166.

Gogolin I 1993 "The 'monolingual habitus' as a concept for understanding reactions of standard language teaching to multilingualism".  Toespraak gelewer by die 10de Wreldkongres van die Internasionale Vereniging van Toegepaste Linguistiek. Amsterdam, Augustus 1993.  

Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 1995 (Wet No. 59 van 1995).  Staatskoerant Vol. 363, No. 16726.  Kaapstad:  Staatsdrukker.

Ruiz R 1984 Orientations in Language Planning.  Journal of the National Association for Bilingual Education.  Vol 8: 15-34.

Ruiz R 1988 "Official Languages and Language Planning".  In K Adams & D Brink  (red.) Official English in the border states.  Tuscon: University of Arizona Press.

Siatchitema A K 1992  "When nationism conflicts with nationalist goals: Zambia".
In Crawhill N T (red.) Democratically Speaking.  Kaapstad: National Language Project.

Skutnabb-Kangass T 1988 "Multilingualism and the education of minority children".  In Skutnabb-Kangas T & Cummins J (red.) Minority Education:  From Shame tot Struggle.  Clevedon: Multilingual Matters.

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (wet No. 108 van 1996).

Tripathi P D 1990  "English in Zambia:  the nature and prospects of one of Africa's 'new Englishes'".  In English today, 6.3:34-38.

Lede van die publiek word versoek om hulle kommentaar in te dien voor of op 30 Junie 1999, by die volgende adres:

Die Hoof Uitvoerende Beampte
PANSAT
Privaat Sak X08
Arcadia
0007

Tel: (012) 341-9638 of 341-9651
Faks: (012) 341 5938



1 Onder die vorige bedeling is erkenning aan Noord- en Suid-Sotho verleen.  Onder die huidige Grondwet is hierdie onderskeiding nie gemaak nie.  In die plek daarvan is aan isiNdebele amptelike status verleen.
1


2



